Wednesday, December 15, 2010

vakansie

ek (en my blog) gaan nie-amptelik met vakansie vandag.  my hele lewe is gepak in 'n kolle tas, 'n paar leersakke en bokse.  ek is egter steeds onseker hoe ek al my besittings in my karretjie gaan pas.  daar sal weer nuwe pos wees sodra ek by die huis kom en al my rokke weer gelukkig aan hulle hangers hang. 

vakansie-klere!


Friday, December 10, 2010

om wegkruipertjie te speel met die son

die afgelope paar dae het springbok se hitte my amper onder gekry.  ek sit tans en skuil in my lugverkoelde kantoor, maar ek weet dat hongerte my middagete gaan dwing om die son te trotseer.  in hierdie hitte is dit amper te warm om mooi aan te trek en te tittewyt... amper...


Thursday, December 9, 2010

patroon

ek het vandag besluit die tyd het aangebreek dat ek leer hoe om klere-patrone te maak.  my benadering tot ontwerp en patroonmaak is huidiglik baie aanmekaargelap en slordig.  ek het 'n winskopie raakgeloop op kalahari.net en patternmaking for fashion design in oppad na my posbus. 

'n patroon van 'n ander aard wat my inspireer vandag (ons badkamer se teëls):


Wednesday, December 8, 2010

smelt

dit is hopeloos te warm vandag in springbok om mooi te lyk in enigiets... dus deel ek maar ander items wat my hart laat smelt:




leer handsakke van topshop

Tuesday, December 7, 2010

'n vye rok


hierdie is die tipe uitrusting waarin mens op 'n sondag-oggend kerk toe gaan, luilekker sondag-oggend inkopies gaan doen, 'n kaas, vye en vleis bord vir een vir middagete maak, sex and the city kyk en 'n verlengde middagslapie neem ('n ander uitrusting is egter hiervoor aangetrek).  dit was 'n besondere lekker sondag.

Monday, December 6, 2010

nuwejaarsvoorneme

ek maak selde nuwejaarsvoornemens.  indien ek wel besluit om deel te neem aan dié ritueel, is my voorneme dikwels iets wat min of geen drastiese verandering meebring.  ek wil nie die globale voedingskrisis oplos of 'n selfs net 'n groter positiewe bydrae tot die samelewing maak nie.  my voorneme vir 2011 is om ringe te begin dra.  my moeder se bydrae tot hierdie voorneme is my kersgeskenk:

 'n dear rae blommetjie-ring


ek sal ook nie omgee om een van hierdie etsy ringe aan my vingers te hê nie:






Thursday, December 2, 2010

feestelik

dit is amper kersfees!  my gunsteling tyd van die jaar!

ek is nie 'n baie groot partytjie-meisie nie, maar vandag is ek lus om op te dress en 'n kersfees-partytjie te hou.  ek het die naweek lady windemere's fan van oscar wilde gelees en dit mag moontlik die bron van hierdie partytjie-lus wees. 

ek het hierdie uitrusting vroeër die jaar aangehad na 'n dorpsdans, maar ek dink dit sal gepas wees vir 'n kersfees-partytjie geïnspireer deur oscar wilde:





Wednesday, December 1, 2010

baaibroek wenslys

gister se uitstappie het my herinner hoe baie ek dit geniet om heeldag in 'n baaibroek deur te bring en te swem.  ek is van mening dat 'n mens nooit genoeg swemklere kan hê nie (hierdie opinie kan moontlik die produk wees van my ma se laai vol swemklere).  dit is egter baie moeilik vir my om 'n baaibroek op te spoor wat 'net reg sit', so hier is my wenslys:







Tuesday, November 30, 2010

nie te sleg vir 'n dinsdag nie

hier is hoe ek my dag spandeer het:


my werk het vereis dat ek en my huismaat/kollega vandag vioolsdrift toe moes ry en onsself besig hou vir 'n paar ure.  ons het geswem, getan, gesels en waatlemoen langs die oranjerivier geëet.

hier is waarin ek my dag spandeer het:


hoe was jou dinsdag?

Monday, November 29, 2010

blare en goue mense

ek het gisteraand getel hoeveel slapies ek oor het in springbok... 18 slapies.  18 jellybabies se koppe om af te byt.  ek het heel nostalgies geraak toe ek terugdink aan al die nuwe dinge wat ek ervaar het, die goue mense wat in my hart ingekruip het, die veld, die sterre en die blomme. 

alhoewel my uitrustings dikwels effens vreemd was vir die namakwaland, voel ek dat hierdie een dalk net perfek daarby pas:



Friday, November 26, 2010

koffie en room

ek drink nie koffie of tee nie.  ek het nog nooit nie.  ek het hierdie jaar vir die heel eerste keer in my lewe wimpy koffie probeer, maar is nog nie oorgewen nie.  ek sal egter daarvan hou om topshop se koffie-kleur hempde te dra:





naweek!


dis naweek.  dis bloedig warm.  ek sou dit verkies om heel naweek in my baaibroek deur te bring, maar sosiale gebruik vereis dat ek met meer klere in die publiek sal verskyn.  dus: kort rokkie en 1970's strooihoedjie ('n liefdevolle geskenk van my moeder).

Thursday, November 25, 2010

playsuit version 2.0



daar bestaan 'n plek genaamd magdaleen-wêreld.  hier is spookasem-wolke, rooi eekhorinkies, gekleurde linte en ponies wat reënboë eet en skoenlappers poep.  ek ontsnap na hierdie wêreld wanneer realiteit vir my begin tande wys.  die afgelope 24 uur in realiteit was so onsmaaklike besigheid dat ek nou so diep in magdaleen-wêreld in verdwyn het, dat ek skaars my telefoon kan hoor lui.  en in magdaleen-wêreld dra ek elke dag 'n playsuit.

Wednesday, November 24, 2010

somer stiklys

gedurende my vakansies word die ure en dae spandeer agter die naaldwerkmasjien (met dieselfde entoesiasme waarmee tienerseuns xbox speel).  my vakansie begin oor 22 dae en ek het solank gaan inspirasie soek vir klere om te maak: